Maria
'n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap en jy het
'n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!
Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink, eenmaal sou hy
die hele wêreldskande dra?
Toe jy soms met 'n glimlag langs
jou liggaam stryk… die stilte instaar…
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hy sy hellevaar aanvaar?
Die nag daar in die stal, geen een
om in jou nood by jou te staan,
het jy geweet dat hy alleen
Getsemane sou binnegaan?
Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
as koning van die volk sou kroon?
En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was: Ek het dors!…
Toe dit verby was, en jy met
sy vriend Johannes huis-toe gaan,
Maria, vrou van smarte, het
jy toé die boodskap goed verstaan?
Elisabeth Eybers
Uit: Gedichten;
Uitg. G.A. van Oorschot, Amsterdam
Deze tekst is geautomatiseerd gemaakt en kan nog fouten bevatten. Digibron werkt
voortdurend aan correctie. Klik voor het origineel door naar de pdf. Voor opmerkingen,
vragen, informatie: contact.
Op Digibron -en alle daarin opgenomen content- is het databankrecht van toepassing.
Gebruiksvoorwaarden. Data protection law applies to Digibron and the content of this
database. Terms of use.
Bekijk de hele uitgave van donderdag 23 december 1993
De Waarheidsvriend | 20 Pagina's
Bekijk de hele uitgave van donderdag 23 december 1993
De Waarheidsvriend | 20 Pagina's